Nuus argief

 

Dankie Petro!

Nuus argief >>

Petro Hartman vier vanjaar haar vyftiende jaar by HGG Finansiële Groep. Die onskatbare bydrae wat sy tot die sukses van die besigheid gelewer het, blyk duidelik uit die lojale verhoudings wat sy met haar kliënte opgebou het en die hoë standaarde wat sy altyd handhaaf.

Eendag 15 jaar gelede …

Op 18 Januarie 2000 het Petro Hartman haar vir haar eerste dag se werk by HGG aangemeld. Vyftien jaar later is dit onmoontlik om die praktyk sonder haar voor te stel. Tog is sy baie beskeie oor haar eerste dae by HGG. "Ek vermoed ons het nie eens daardie tyd posbenamings gehad nie," lag sy. "Ek is aangestel en het die geleentheid gekry om as 'n professionele rekenmeester te registreer."

Op die vraag oor hoe haar werk oor die afgelope 15 jaar verander het, reageer sy vinnig: "Hoe meer jare, hoe meer verantwoordelikheid!" Soos HGG gegroei het, het die struktuur van die besigheid ook verander. Petro het in latere jare bestuurder geword en in 2013, saam met Leras Uys, direkteur geword. "Van hier af het ek die menslikehulpbronne-funksie oorgeneem en natuurlik meer by die praktyk se finansies en besluitneming betrokke geraak," sê sy.

Vandag is Petro verantwoordelik vir die finale aftekening van finansiële state en konsultasies met kliënte, saam met praktykbestuur. Haar gelukkigste oomblikke by die werk is wanneer almal "as 'n span saamwerk en dit met 'n baie tevrede kliënt saamgaan".

Petro glo duidelik in die belangrikheid van goeie kliënteverhoudings. "Een van die eerste kliënte wat Hendrik in 2000 aan my voorgestel het, is nog steeds 'n kliënt. Miskien het ons albei iets reg gedoen," glimlag sy.

Ons is oneindig dankbaar vir Petro se insig, kennis, finansiële vaardighede en uitstekende menseverhoudings. HGG Finansiële Groep sou nie dieselfde wees sonder haar nie.

Inhoud en ontwerp deur ICSC | Terug na bo