Nuus argief

 

Belê vandag in 'n belastingvrye spaarrekening

Posted by Administrator (hgg17admin) on Jun 17 2015
Nuus argief >>

Ons is bly om aan te kondig dat Investec se belastingvrye spaarrekening (BVSR = TFSA) nou ook vir HGG Invest-kliënte beskikbaar is. Moenie wag nie – trek voordeel uit hierdie belastingdoeltreffende manier waarop jy jou beleggings kan bestuur.

Wat is 'n belastingvrye spaarrekening (BVSR)?

BVSR's het op 1 Maart 2015 in Suid-Afrika in werking getree. Die doel daarvan is om individue aan te moedig om meer te spaar. Deur geld in 'n BVSR te belê, kan jy verseker dat die groei en inkomste wat jy op jou belegging kry, belastingvry is. Dit beteken dat beleggers nie aanspreeklik is vir enige kapitaalwinsbelasting of inkomstebelasting op die dividende en rente wat hulle op hul belegging ontvang nie. BVSR's is die enigste algeheel belastingvrye spaarprodukte wat op die oomblik in Suid-Afrika beskikbaar is.

Hoekom moet ek die Investec BVSR oorweeg?

BVSR's is ontwerp vir spaar op die lang termyn en 'n ideale belegging vir iemand wat sy of haar spaargeld of aftreefondse wil aanvul. Ouers en grootouers vind die nuwe BVSR's 'n ideale metode om vir kinders se opvoeding te spaar. Ons by HGG Welvaart het die Investec BVSR as vennoot gekies omdat dit uiters kostedoeltreffend en buigsaam is, maklik bestuur kan word en oor 'n wye reeks fondse van Investec Batebestuur en ander derdepartybestuurders beskik.

Wat jy oor BVSR's moet weet

  • Wie kwalifiseer: Alle individue wat in Suid-Afrika woonagtig is.
  • Beleggingslimiete: Die huidige jaarlikse limiet vir BVSR's is R30 000 (per belastingjaar) met 'n huidige maksimum maandelikse debietorder van R2 500 en 'n huidige lewenslange bydraelimiet van R500 000.
  • Minimum beleggingsbydrae: R10 000 vir enkelbedrae en R500 per maand vir debietorders (vir Investec se BVSR's).
  • Toeganklikheid: Daar is geen minimum beleggingstermyn nie, en dus geld daar geen beperkings op toegang nie. Daarbenewens is daar geen beperking op die bedrag wat 'n belegger uit sy of haar BVSR kan onttrek nie en alle onttrekkings is belastingvry. Enige herbeleggings sal egter as nuwe bydraes beskou word en by die bestaande bydraes getel word om die totale bydraelimiet te bepaal. Bydraes tot BVSR's wat die toepaslike jaarlikse of lewenslange limiet oorskry, sal teen 40% belas word. Fondse is binne drie sakedae beskikbaar, maar dit kan wissel afhangende van jou bank.
  • Belastingimplikasies: BVSR's is vrygestel van belasting op rente, inkomste, dividende asook kapitaalwinsbelasting.
  • In die geval van dood: Die belegging sal in die belegger se boedel inbetaal word en kan aan boedelbelasting en eksekuteursgelde onderhewig wees. Terwyl die belegging in die boedel gehou word, sal die opbrengs van die BVSR steeds van inkomstebelasting en kapitaalwinsbelasting vrygestel wees.
  • Belegging namens minderjariges: Ouers kan namens 'n minderjarige tot 'n BVSR bydra. As dit uitbetaal, moet dit egter in 'n bankrekening in die minderjarige se naam inbetaal word.

Stel jy belang?

Om uit te vind hoe jy en jou gesin voordeel kan trek uit 'n Investec BVSR, bel Jannie van Wyk of Scholtz Bezuidenhout by 021 870 1038 of kontak ons by HGG Welvaart by investments@hggroep.co.za.

Last changed: Jun 17 2015 at 12:47 PM

Back

Inhoud en ontwerp deur ICSC | Terug na bo