Nuus

 

Verseker jou eiendom!

Nuus >>

Miljarde rande se skade is aangerig aan eiendomme tydens die onlangse Knysna-brande. Hoe moet jy sorg jou eiendom is voldoende verseker in die geval van só 'n ramp?

"Brand is 'n standaardversekerde gevaar in enige polis wat bates verseker. Die meeste gebouversekeringspolisse dek ook addisionele kostes soos brandbluskostes, puinverwyderingskostes, slopingskostes, professionele fooie en ook tydelike alternatiewe verblyfskostes," sê Johan Potgieter, direkteur van Helderberg Insurance Broker (HiB).

"Die eiseproses verander nie in só 'n rampgeval nie. Kliënte moet hulle makelaar so spoedig as moontlik in kennis stel. In 'n situasie waar daar so baie eiendomme gelyktydig beskadig is in 'n spesifieke area, plaas dit natuurlik baie druk op die plaaslike versekeringsbedryf. Die versekeraars sal in só 'n geval spanne assessors van regoor die land inkry om te help om al die beskadigde eiendomme so gou as moontlik te assesseer en om eise so gou as moontlik af te handel."

Volgens Johan beloop die totale eisekostes van die brande tot R5 miljard vir die versekeringsbedryf. "Die positiewe kant hiervan is dat die geld wat deur versekeraars uitbetaal word, weer in die Knysna-area bestee sal word wat op sy beurt 'n ekonomiese inspuiting vir die area is. Ons is trots daarop om deel te wees van 'n bedryf wat gaan help om die area weer op te bou.

"As 'n eiendom korrek verseker was tydens hierdie brande, gaan mense hul eiendom en ander besittings kan vervang met die eisebetalings wat hulle van hul versekeraars ontvang."

Maar wat beteken dit om korrek verseker te wees? "Geboue moet vir die korrekte vervangingswaarde of herboukostes verseker wees, wat BTW, vaste toebehore, omheinings, plaveisel, swembad, buitegeboue ensovoorts insluit. Daar moet ook addisionele voorsiening vir brandbluskostes, puinverwyderingskostes, slopingskostes asook professionele fooie gemaak word in die versekerde bedrag."

Moenie van die inhoud van jou eiendom vergeet nie. Jou huisinhoud soos meubels, klerasie, linne, juweliersware, gereedskap, elektriese en elektroniese toerusting, breekgoed, kunswerke, versamelings en sporttoerusting moet verseker wees – dus alles wat jy sou saamneem indien jy sou verhuis. "Dit is ook baie belangrik dat hierdie eiendom vir die nuwe vervangingswaarde verseker moet wees," voeg Johan by.