Nuus

 

'n Trotse borg vir plaaslike uitnemendheid

Nuus >>

Die HGG Finansiële Groep kondig met trots aan dat ons ons borgskap van die uiters gewilde TV-reeks Tyd met Aleit vir die tweede seisoen hernu het. Seisoen twee van Tyd met Aleit het op Woensdag 3 Januarie om 17:30 afgeskop en sal vir die volgende drie maande op kykNET (DStv-kanaal 144) uitgesaai word.

Tyd met Aleit is in April 2017 bekend gestel en was onmiddellik ’n sukses. In elke episode besoek Aleit Swanepoel, gerekende geleentheidsguru en stigter van die Aleit Groep, die tuiste van ’n bekende Suid-Afrikaanse persoonlikheid en skep pragtige tafeldekor deur net van wat reeds in hul huis is, gebruik te maak. Daarbenewens word ’n uitdaging aan die glanspersoonlikhede gestel in die vorm van ’n verrassingsmandjie met bestanddele waaruit hulle iets besonders moet skep. In seisoen twee is daar ’n nuwe bonusgleuf waar Aleit profiele opstel van die nuutste tendense op die Suid-Afrikaanse leefstyllandskap waaronder mans se versorging, vegetariër restaurante en hotelle wat troeteldiere toelaat.

Die Aleit Groep is ’n gewaardeerde langtermynkliënt van die HGG Finansiële Groep, met HGG wat op sy beurt al lank op die besonderse dienste van die Aleit Groep vir sy funksies en dekor staatmaak. HGG se borgskap van Tyd met Aleit het derhalwe perfek ingepas. “Die hernuwing van ons borgskap vir die tweede seisoen is ’n natuurlike uitvloeisel van ons verbintenis tot ons kliënte se langtermyn-winsgewendheid en -welvaart. Ons is ongelooflik trots daarop om met die kreatiewe, innoverende en professionele dienste van die Aleit Groep geassosieer te kan wees,” sê HGG se stigter en hoof- uitvoerende beampte, Hendrik Gerryts.

HGG se borgskap van Tyd met Aleit sluit in ’n spesiale voorskou-TV-advertensie waarin Hendrik Gerryts optree. “Die advertensie beeld ’n tipiese vergadering tussen my en een van ons kliënte uit. Ons het op hierdie tema besluit om ons fokus op en verbintenis tot ons kliënte te onderstreep. Ons sien daarna uit om al ons kliënte te help floreer en nuwe hoogtes in die jaar vorentoe te help bereik,” sê Hendrik.

Jy kan Tyd met Aleit en die spesiale HGG TV-advertensie elke Woensdagaand om 17:30 op kykNET kyk.