Nuus

 

Laer rentekoerse bied beleggingsgeleenthede

Nuus >>

HGG Welvaart gee advies oor hoe jy nou jou geld behoort aan te wend.

Die SA Reserwebank (SARB) se monetêre beleidskomitee (MPC) het in Maart vanjaar aangekondig dat hy besluit het om rentekoerse met 25 basispunte, oftewel 0,25%, te verlaag. Dit beteken die repokoers is nou 6,5% met die prima uitleenkoers wat tot 10% gedaal het. Volgens HGG Welvaart-direkteur Niek van den Berg is die onlangse rentekoersverlaging beduidend aangesien die laaste repokoersverlaging deur die sentrale bank in Julie 2017 was, toe die MPC dit met 25 basispunte van 7% tot 6,75% gesny het.

Repo vs prima: Die repokoers is die norm-rentekoers waarteen SARB geld aan kommersiële banke soos Absa, Standard Bank en First National Bank leen. Die prima koers is die koers waarteen kommersiële banke op hul beurt geld aan verbruikers leen.

Hoekom verander SARB die rentekoers?

SARB is verantwoordelik vir die beskerming van die waarde van die rand en om ekonomiese stabiliteit en groei te verseker. Gevolglik verlaag of verhoog hy rentekoerse om ’n invloed uit te oefen oor hoe verbruikers geld bestee en bespaar, verduidelik Niek.

  • Hoër rentekoerse maak dit duurder om te leen, so mense vermy skuld en is geneig om meer geld te bespaar. Die gevolg is minder geld in sirkulasie, wat help om inflasie te verlaag.
  • Laer rentekoerse beteken dit is goedkoper om geld te leen en geld is gevolglik meer geredelik beskikbaar. Laer rentekoerse word dikwels gebruik om ekonomiese groei aan te moedig.

Wat beteken die rentekoersverlaging vir jou?

  • Die koersverlaging is ongetwyfeld ’n hupstoot vir huiseienaars. Hoewel huiseienaars by die bykomende besteebare inkomste in hul maandelikse begrotings sal baat, raai Niek aan dat HGG-kliënte by hul vorige (hoër as die vereiste) verbandafbetaling hou, aangesien dit jou verbandafbetaaltermyn met jare kan verkort.
  • Voornemende huiskopers sal ook baat vind by die feit dat dit minder kos om geld te leen in wat tans steeds ’n kopersmark is. 
  • Beleggers kan deur die koersverlaging geraak word as hul beleggings aan die prima koers gekoppel is. “As die rente wat jy op jou beleggings verdien aan die prima koers gekoppel is, sal dit nou minder wees. Die besparing wat jy egter weens die laer uitleenkoste behoort te kry, kan maklik in ’n beleggingsinstrument belê word wat nie aan die prima koers gekoppel is nie,” is Niek se advies.
  • Onthou dat die styging in die BTW-koers tot 15% inflasie weer in die nabye toekoms kan opstoot. Dit is dus nie raadsaam om op meer rentekoersverlagings in die jaar vorentoe staat te maak nie.

Ons is hier om jou te help om jou beleggings maksimaal te laat groei

Kontak enige van die HGG Welvaart-beleggingspesialiste hieronder vir advies en hulp met jou beleggingsportefeulje.

HGG Welvaart-direkteur
Niek van den Berg
niek@hggroep.co.za

Welvaartbestuurders
David Walker
david@hggroep.co.za

Dennis Robertson
dennis@hggroep.co.za