Nuus

 

Jou gids tot die 2018-begroting

Nuus >>

Minister van Finansies Malusi Gigaba het sy nasionale begrotingsrede op 21 Februarie begin deur dit as ’n “moeilike, maar bemoedigende begroting” te beskryf.

Met ’n begrotingstekort van meer as R50 miljard op hande, moes heelwat moeilike besluite geneem word, maar moed is ook geskep met die voorspelling dat Suid-Afrika se ekonomie in 2018 met 1,5% sal groei, ná die 1% van 2017 (dit is verhoog van die 0,7% wat in Oktober se mediumtermyn-begrotingsverklaring voorspel is).

Die nuwe belastingmaatreëls wat deur Gigaba in sy begrotingsrede aangekondig is, sal in 2018/19 ’n bykomende R36 miljard oplewer, grotendeels deur die verhoging in BTW en persoonlike inkomstebelasting. Terwyl dit nie ’n gewilde besluit was nie, sal dit waarskynlik die graderingsagentskappe tevrede stel – én die rand het na afloop van die begrotingsrede sterker verhandel.

Hier is ’n opsomming van die belangrikste veranderinge waarvan jy moet weet:

Die gróót aankondiging: BTW styg
BTW is vir die eerste keer sedert 1993 verhoog.  Die verhoging van 14% tot 15% vanaf 1 April sal na verwagting ’n bykomende R22,9 miljard oplewer.

Persoonlike inkomstebelasting
Wat inkomstebelasting betref, is geen belastingkoerse verhoog nie. Daar was egter slegs gedeeltelike verligting vir stygende inkomstegroepe, aangesien geen wysiging aan die boonste drie kategorieë van inkomstebelasting gemaak is nie, en persoonlike inkomstebelastingkortings is tot vlakke minder as inflasie verhoog. Dit sal na verwagting in die komende boekjaar ’n bykomende R6,8 miljard in belasting teweegbring.

Onder-inflasie-verhogings in mediese belastingkrediete sal help om R4,2 miljard in te vorder om die uitrol van nasionale gesondheidsversekering te befonds. Die mediese belastingkrediet sal styg van R303 per maand tot slegs R310 vir die eerste twee begunstigdes, en van R204 tot R209 vir die oorblywende begunstigdes.

Belasting op besighede
Maatskappybelasting het onveranderd gebly op 28% en omsetbelasting (van toepassing op mikro-ondernemings met ’n omset van nie meer as R1 miljoen per jaar nie) het ook nie verander nie. Klein veranderinge is aangebring aan belasting op klein ondernemings.

Boedelbelasting en skenkingsbelasting
Boedelbelasting vir boedels ter waarde van R30 miljoen of meer sal vanaf 1 Maart 2018 tot 25% (voorheen 20%) styg. Dit geld ook vir skenkings van meer as R30 miljoen.

Belasting op luukshede
Gigaba het ’n styging in die ad-valorem aksynsbelastingkoers op luukse goedere van 7% tot 9% aangekondig, met ingang van 1 Maart 2018.

Omgewingsbelasting
’n Nuwe koolstofbelasting sal op 1 Januarie 2019 geïmplementeer word, gegrond op die beginsel van besoedelaar-moet-betaal. Die plastieksakheffing styg op 1 April met 50% tot 12c per sak. Belasting op voertuigvrystellings – wat motors penaliseer wat koolstofdioksied bo ’n sekere perk vrystel – sal ook verhoog word.

“Sondebelasting”
Aksynsregte sal met tussen 6% en 10% styg vir alkoholiese drank (met siders en moutbier wat die swaarste belas word) en 8,5% vir tabakprodukte.

Brandstof
Die brandstofheffing sal met 52c per liter styg (bestaande uit ’n verhoging van 22c/liter in die algemene brandstofheffing en ’n verhoging van 30c/liter vir die Padongelukkefonds). Dit beteken dus dat die totale belasting op elke liter 93-oktaan-petrol wat verkoop word, nou op R5,34 sal staan.

Wat bly onveranderd?
Geen veranderinge is hierdie jaar aan kapitaalwinsbelasting, hereregte, dividendbelasting en belasting op trusts aangebring nie.

Hoe word die geld bestee?
Die regering sal oor die mediumtermyn R792 miljard aan basiese onderwys, R668 miljard aan gesondheid en R528 miljard aan maatskaplike toelaes bestee.

  • Toelaes vir bejaardes sal in April met R90 tot R1 690 en in Oktober tot R1 700 styg. Die toelaag vir kinderondersteuning styg in April met R20 tot R400 en tot R410 in Oktober.
  • ’n Groot aankondiging is dat R57 miljard oor die volgende drie jaar vir gratis hoër onderwys bewillig is, waarvan R12,4 miljard in 2018/19 vir eerstejaars sal wees (diegene met ’n gesamentlike jaarlikse familie-inkomste van minder as R350 000).
  • Bemoedigende nuus vir die Wes-Kaap is dat die begroting ook R6 miljard in 2018/19 vir droogteverligting en infrastruktuurbelegging opsy sit.

Benodig u raad oor hoe die begroting u raak?
Kontak ons gerus om uit te vind watter implikasies die 2018/19-begroting vir jou inhou. Ons is daartoe verbind om jou nuwe boekjaar ’n voorspoedige een te help maak.