Nuus

 

HiB is weer die beste in die Boland!

Nuus >>

Helderberg Insurance Brokers (HiB) het vir die tweede agtereenvolgende jaar met die louere weggestap by die Santam-makelaarstoekenningsfunksie. By die toonaangewende funksie in Junie vanjaar het HiB die Diamant-toekenning vir die beste makelary in Santam se Boland-streek ontvang.

"Dit is werklik 'n merkwaardige prestasie, veral met inagneming daarvan dat hierdie eer ons twee agtereenvolgende jare te beurt geval het," sê Johan Potgieter, besturende direkteur van HiB. Die Santam Diamant-toekenning vir 2017 volg op die eerste Diamant-toekenning wat HiB verlede jaar ontvang het.

Hoë standaarde

Die Santam Diamant-toekenning word aan die beste makelary in die Boland-streek toegeken (wat insluit Santam se Paarl-, Stellenbosch-, Somerset-Wes-, Hermanus- en Worcester-takke). Die toekenning word gemaak op grond van prestasie in administrasie, winsgewendheid en groei oor 'n tydperk van drie jaar.

"Professionaliteit en streng nakoming van bedryfstandaarde is baie belangrik vir ons. Voeg daarby die pogings van 'n passievolle en dinamiese span en jy het die wenkombinasie wat aan ons hierdie toekenning besorg het," sê Johan.

Soliede verhoudings

Al het sy kliëntebasis uitgebrei, het HiB nie die persoonlike diens en individuele verhoudings wat die makelary vanuit die staanspoor gekenmerk het, opgeoffer nie. "Ons kliënte is van die uiterste belang vir ons sukses en groei. Ek wil hulle almal weer eens vir hul voortgesette lojale ondersteuning bedank," sê Johan.

"'n Groot dankie gaan ook aan my vennote en HiB se personeel. Sonder julle entoesiasme, kundigheid en verbintenis tot persoonlike diens sou ons nie in staat gewees het om ons hoë standaarde te handhaaf nie. Julle bydrae het ons gehelp om hierdie toekenning van Santam te kry."