Nuus

 

ForwardFund Academy open deure vir vaardigheidsontwikkeling

Nuus >>

ForwardFund Academy open amptelik op Dinsdag 10 April 2018 sy deure. Geleë in die Solaris Kantoorpark in Kommetjieweg, Sunny Acres, skop die Akademie af met ’n opwindende eenjaarkursus in film- en televisiestudie in vennootskap met Bryony Roughton, eienaar van SAY ME (South African Youth Media Education).

Die SAQA-geakkrediteerde nasionale sertifikaat in film- en televisieproduksie bied aspirerende studente die geleentheid om film- en televisievaardighede te leer en die nodige kennis op te doen vir werk en vryskutwerk in die film- en televisie-industrie na graduering.

Die Akademie het boonop volle beurse vir 2018 aan 20 verdienstelike Suid-Afrikaanse jongmense toegeken. Elke beurs beloop R25 000 vir die jaar. Aansoekers (18 tot 25 jaar oud) moes ’n video van 30 sekondes oor hul vertolking van die waterkrisis as deel van hul aansoek instuur.

Tina Thiart, ForwardFund-trustee, voorsien dat die Akademie ’n kardinale rol gaan speel in die ontwikkeling van klein ondernemings wat deur vroue besit word. Met hierdie doel voor oë het die Akademie ook ’n nasionale sertifikaat: skep van nuwe ondernemings (“National Certificate: New Venture Creation”) bekend gestel, wat op investering in die onderrig van plaaslike, voorheen benadeelde vroulike entrepreneurs sal fokus.

Die ForwardFund Trust is ’n geregistreerde trust en onafhanklike fonds wat maatskappye die geleentheid bied om in vaardigheidsontwikkeling, ondernemingsontwikkeling en sosio-ekonomiese ontwikkeling te investeer. ForwardFund werk nou saam met HGG NPO Sustainability Solutions, ’n SETA-geakkrediteerde opleidingsfasiliteit, om te verseker dat werklose jongmense en vroue toegang tot geakkrediteerde vaardigheidsopleiding kan kry.

Vaardigheidsontwikkeling bly ’n hoë prioriteit in Suid-Afrika, en ForwardFund is daartoe verbind om deel van die oplossing te wees. ForwardFund het die hulpbronne gemobiliseer om die nuwe Akademie in Kommetjieweg te open en is tans ook besig om ’n rekenaarlaboratorium te ontwikkel, waar jongmense toegang tot internet het om vir werk aansoek te doen of aanlyn te studeer.

Om meer oor ForwardFund en die Akademie uit te vind, gaan na www.forwardfund.co.za of stuur e-pos na info@forwardfund.co.za