Nuus argief

 

BEURTKRAG: Só raak dit jou versekering

Nuus argief >>

Beurtkrag is hier om te bly. Maar hoe raak dit jou korttermynversekering? Is jy gedek vir diefstal of elektroniese skade terwyl die krag af is? Helderberg Insurance Brokers (HIB) gee antwoorde op hierdie vrae.

Die groot potensiële gevaar vir kliënte en versekeraars is dat alarmstelsels tydens beurtkrag afskakel omdat die bystandsbatterye die alarm slegs vir 'n beperkte tyd aktief hou. Sodra die kragtoevoer dus totaal afgesny is, word besigheidspersele en woonhuise blootgestel aan diefstal. Die alarmvoorwaarde op beide kommersiële en persoonlike polisse vereis dat die alarm altyd in 'n werkende toestand moet wees en geaktiveer word wanneer die perseel onbewoon gelaat word of wanneer 'n besigheidsperseel nie oop is vir besigheid nie.

"Die meeste tradisionele versekeraars het egter onderneem om versekerdes nie te penaliseer as diefstal plaasvind in die tyd wanneer die alarm weens beurtkrag nie werk nie. Dit is egter belangrik dat versekerdes steeds moet verseker hulle alarmstelsels is onder normale omstandighede in 'n werkende toestand en ook dat alarmstelsels geaktiveer word wanneer hulle 'n besigheids- of residensiële perseel verlaat," sê Johan Potgieter, direkteur van HIB.

Beurtkrag kan 'n kragstuwing in die elektrisiteitstoevoer na jou residensiële woning of besigheidsperseel veroorsaak, wat beteken dat items soos huishoudelike goedere en kommersiële toerusting wat aan die elektrisiteitstoevoer gekoppel is, beskadig kan word. Die meeste persoonlike en kommersiële polisse kan uitgebrei word om hierdie dekking in te sluit teen 'n addisionele premie. Dit is baie belangrik om daarop te let dat jou polis nie kragstuwing outomaties dek nie – jou polis moet spesifiek uitgebrei word. "HIB sal jou graag hiermee help en bevestig of jou polis uitgebrei is om jou teen hierdie skade te dek."

Voorkomende maatreëls

Eskom stel gereeld opgedateerde beurtkragskedules beskikbaar. Hier is 'n paar dinge wat jy vooraf kan doen om jou risiko en skade te beperk tydens beurtkrag:

  • Ontkoppel sensitiewe toerusting soos rekenaars, televisies, yskaste en kommersiële masjinerie en toerusting wat deur kragstuwing beskadig kan word.
  • Stuwingsbrekersprodukte ("surge arrestors") is beskikbaar by die meeste groothandelswinkels. Dit beskerm jou elektriese en elektroniese items teen kragstuwing.
  • Indien moontlik, moenie jou besigheidsperseel of woning onbewoon laat tydens beurtkrag nie.
  • Indien jy op vakansie gaan, ontkoppel elektriese ware, elektroniese toerusting en ook masjinerie en toerusting wat nie gebruik gaan word nie. Kry iemand om in jou huis te bly of om gereeld 'n ogie te hou oor jou huis of besigheidsperseel.

HIB, met meer as vyftig jaar se ervaring in die bedryf en 'n divisie van HGG Finansiële Groep, is gerat om kliënte te help om te verseker hul bestaande polisse maak voorsiening vir dekking teen enige moontlike verlies of skade. "Ons sien uit daarna om met jou te gesels!" sê Johan.